INLEIDING
 

Baie dankie

Baie dankie dat u Orania as tuisdorp oorweeg. Ons wil u graag verwelkom as medewerker aan ons groot ideaal. Dit is egter vir ons belangrik dat voornemende inwoners deeglik bewus sal wees van wat dit behels om ʼn Oraniër te wees en dat hulle ons strewe sal deel en by ons kultuur en manier van doen sal inpas. Daarom dat hierdie aansoek aspekte bevat wat ʼn formele regsverbintenis met Orania daarstel en daartoe sal bydra om potensiële risiko’s vir ons gemeenskap vroegtydig te identifiseer.

 

Orania se aard, grondslag en strewe

Die dorp Orania is in 1991 deur die stigters gekoop met die doel om as vestigingspunt vir Afrikanerselfbeskikking en sal ook deur ons en ons nageslag verder uitgebrei en ontwikkel word in nederige erkentlikheid teenoor die Drie-Enige God, Alleenbeskikker oor die lotgevalle van volkere en die geskiedenis van die mensdom.

Die gemeenskap van Orania is daarom geskoei op ʼn Christelike wêreldbeskouing met tradisionele Christelike norme en waardes. Dit is Bybelgefundeerde gesinne wat die onmisbare boustene van ʼn gesonde gemeenskap en volk uitmaak.

Orania is ook ʼn doelgedrewe gemeenskap wat deurlopend werk na hoër vlakke van selfstandigheid en selfbesluitneming ten einde uiting te gee aan ʼn strewe na selfbeskikking, om dan só ʼn tuiste vir Afrikaners – ʼn kultuuretniese gemeenskap met ʼn eiesoortige ontwikkelende historiese bewussyn, kulturele bates en strewes – te wees. Selfwerksaamheid, as die gebruik van Afrikanerarbeid vir alle tydelike en permanente werk, is die ononderhandelbare voorvereiste tot groeiende Afrikanerselfbeskikking.

Orania kan daarom as ʼn Afrikanerbemagtigingsprojek in die volste sin van die woord beskryf word. Orania vorm steeds deel van die huidige Suid-Afrikaanse grondwetlike landskap, met duidelik uiteengesette regte en verpligtinge, soos vervat in die Suid-Afrikaanse grondwet.

 

Doel van verblyfreg

Die doel van verblyfreg is primêr om ons gemeenskap se selfstandigheid en volhoubaarheid te bevorder ten einde Orania nader aan Afrikanerselfbeskikking te bring en is daarom van toepassing op almal wat permanent of tydelik in Orania wil vestig en/of werk. ʼn Voornemende inwoner en/of aandeelhouer se verbintenis tot Orania se aard, grondslag en strewe, wat verseker dat inwoners Orania se Christelike waardes en oortuigings deel, by ons kultuur en gebruike inskakel en ʼn bydrae tot die behoud en opbou van ons gemeenskap lewer, is die toets vir volhoubare groei wat in diens van ons groter strewe staan.

In praktiese terme beteken dit dat ʼn voornemende inwoner en/of aandeelhouer se aansoek om verblyfreg aan die hand van sy/haar verbintenis tot Orania se beginsels en ideale oorweeg word. Sodanige persoon sal so ver moontlik geakkommodeer word

  1. met die behoorlike inagneming van die werklike behoeftes, vermoëns en hulpbronne wat beskikbaar is;
  2. sonder om die gemeenskap van Orania aan onnodige risiko’s (intern en ekstern) bloot te stel; en,
  3. deur te verseker dat die persoon by Orania se beginsels van eie arbeid, eie grond en eie instellings met die oog op selfbeskikking as ideaal sal kan inskakel.

 

Die volgende dokumente moet u aansoek vergesel

Maak asb. seker dat u elektroniese kopieë van die volgende dokumente byderhand het. Indien jy 'n stadige netwerkverbinding het, moet aanhegsels verkieslik kleiner as 1MB wees. Let wel: afsonderlike leêrs gaan opgelaai word vir elk van die onderstaande so moet nie alles saam "zip" of in een PDF dokument in skandeer nie.

  Identifikasie

  • Almal bo 16 jaar: Gesertifiseerde afskrifte van ID dokumente (SA Burgers) of Gesertifiseerde afskrifte van paspoort (nie-SA Burgers). In die geval waar ’n ID-dokument nie beskikbaar is nie, kan ’n gesertifiseerde afskrif van ’n geboortesertifikaat verskaf word.
  • Almal onder 16 jaar: Gesertifiseerde afskrifte van geboortesertifikaat

  Paspoortfoto's

  • Verskaf 'n afsonderlike kop-en-skouers kleurfoto (soortgelyk aan ‘n paspoortfoto) van elke gesinslid. Slegs .jpg of .png formaat, nie PDF nie.

 Huweliksertifikaat

  • Verskaf 'n gesertifiseerde kopie van u huweliksertifikaat indien u getroud is